Los Angeles

Los Angeles (Engels: [lɒs ˈændʒələs], ; Spaans: [los ˈaŋxeles], letterlik: "die Engele") is 'n groot, uitgestrekte metropool aan die weskus van die Verenigde State en die administratiewe setel van die Los Angeles-distrik (Los Angeles County) in Suid-Kalifornië. Die stad is in 1781 deur die Spaanse kaptein Rivera y Moncada onder die naam El Pueblo de Nuestra Señora Reina de los Ángeles de la Porciúncula ("Stad van Onse Dame, Koningin van die Engele van die Porciúncularivier" – die nedersetting se presiese naam kan deur geskiedkundiges tans nie bepaal word nie) met elf Spaanse gesinne (altesaam 44 siele) langs die Los Angeles-rivier gestig, maar dit is eers op 4 April 1850 – vyf maande voordat Kalifornië amptelik tot die Unie toegelaat is – as 'n munisipaliteit geïnkorporeer. Los Angeles is by verre die grootste stedelike nedersetting in Kalifornië, en sedert 1990, toe dit die tradisionele Second City Chicago verbygesteek het, op een na die grootste metropool in die Verenigde State, met 'n inwonertal wat in 2015 vir die eerste keer in sy geskiedenis die viermiljoenkerf verbygesteek het. Die metropolitaanse gebied van Los Angeles (wat naas Los Angeles ook die distrikte San Bernardino, Riverside, Ventura en Orange County bevat) huisves 'n bevolking van meer as 17 miljoen met uiteenlopende etniese en ekonomiese agtergronde. Die stad is in die 20ste eeu as die prototipe van 'n toekomstige metropool beskou wat alle voor- en nadele van 'n uitgestrekte metropolitaanse gebied in hom verenig het. Die stad, waarvan die naam dikwels afgekort word tot LA, is 'n wêreldsentrum vir sake en internasionale handel, vermaak, kultuur, media, mode, wetenskap, tegnologie en onderwys. Dit is die setel van bekende professionele liggame, kulturele organisasies en tersiêre onderwysinstellings soos die University of Southern California en die University of California en een van die kragtigste ekonomiese spilpunte in die VSA. Los Angeles word gelys as die wêreld se derde welvarendste en vyfde magtigste en invloedrykste metropool wat in die VSA net deur New York oortref word. Die gekombineerde statistieke gebied (combined statistical area, CSA) van Los Angeles-Long Beach-Anaheim sal in 2020 na beraming 'n bruto metropolitaanse produk van $1207,3 miljard genereer wat van die stad die tweede grootste ekonomiese sentrum in die Verenigde State na die metropolitaanse gebied van New York maak. Met Hollywood het Los Angeles daarnaas tot die "Wêreldhoofstad van Vermaak" ontwikkel en speel steeds 'n leidende rol in die rolprent-, televisie-, videospeletjie- en musiekbedryf, al word die meeste belangrike ateljees tans in die stadsdeel Burbank aangetref. Die belangrikheid van die plaaslike vermaakbedryf maak van Los Angeles en sy voorstede gewilde woonplekke vir bekende vermaakpersoonlikhede. Die betowering van die Amerikaanse Droomfabriek, Hollywood, Hollywood Boulevard met sy beroemde Walk of Fame, Sunset Strip, en Beverly Hills, asook die natuurskoon van sy strande het van Los Angeles die sinnebeeld van die Kaliforniese droom gemaak en tot sy vinnige groei bygedra. Dekades lank was Los Angeles se stadsgeskiedenis 'n verhaal van suksesvolle selfbemarking en grootskaalse binnemigrasie. Aanvanklik was die droom van vryheid en onafhanklikheid beperk tot 'n klein laag welvarendes. Kort voor lank het die stad 'n trekpleister vir honderdduisende Amerikaners uit die Middelweste geword wat 'n voorstedelike lewe in die enkelgesinshuise van Southland, die sonnige suide van Kalifornië, kon bekostig, vry van die beperkings wat 'n lewe in die digbevolkte Amerikaanse metropole van die Ooskus hulle sou opgelê het. Uiteindelik het Los Angeles ook 'n toevlugsoord vir ontworteldes geword wat slagoffers van die Dust Bowl, een van die grootste natuurrampe in die geskiedenis van die VSA, geword het, en met niks meer as hul motors, vol gepak met hul besittings, hier aangekom het. Die stadsgebied, wat deur 'n netwerk van oënskynlik eindelose snelweë deurkruis word, behels 'n groot verskeidenheid boustyle wat van die stadsentrum met sy wolkekrabbers tot luukse villas in die klowe van die omgewing strek. Sy bewoners, na wie in die Verenigde State as Angelenos verwys word, geniet 'n gematigde en sonnige klimaat, ook in die winter. Groen ruimtes en strande langs die Stille Oseaan-kuslyn soos Venice- en Huntington Beach is gewilde ontspanningsplekke. Disneyland is ook in die buurt van Los Angeles en was die eerste vermaaklikheidspark van sy soort. Los Angeles het as gasheerstad van die Olimpiese Somerspele van 1932 en 1984 opgetree en sal naas Londen en Parys in 2028 die derde stad wees wat vir 'n derde keer as gasheerstad vir die Olimpiese Somerspele optree.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy